Korannaberg Wild2018-09-08T07:05:47+00:00

Agtergrond

Korannaberg Wild is in 2006 gestig en bestaan uit Dr JW Eksteen, Dr Riaan Ekkerd en Dr Lourens Crous. Al drie lede is oud-Kroonstadters met ‘n passie vir wild, bewaring en boerdery. Dr Ekkerd praktiseer tans in Engeland as veearts maar besit ook ‘n plaas in die Oos Kaap waar hy met onder andere vlakte wild boer, terwyl Dr Lourens Crous, na 7 jaar in die boerdery bedryf, nou as spesialis sielkundige in Californië, VSA praktiseer.

Korannaberg Wild is gesetel op die plaas Elysium aan die voet van die Oos Vrystaat se sandsteen koppe naby Clocolan. Groot troppe wild het volgens oorlewering in die distrik voorgekom en voor die Anglo Boere oorlog het die Kroonprins van Engeland in die distrik kom jag en is daar op een dag ongeveer 300 stuks vlakte wild geskiet.

Ons is ongelooflik trots op ons swartwitpens en bastergemsbok kuddes. Deur sorgvuldige seleksie het Korannaberg reeds 4 swartwitpensbulle geteel wat oor die 50” meet. Tans word die twee uitsonderlike Matetsi bulle, Koranna TT24 (54 4/8” gemete horing groei) en Ballito (50”+) in ons swartwitpens teeltroppe gebruik en uitsonderlike resultate is reeds behaal. Ons is veral opgewonde oor die kombinasie van dié twee bulle se genetika en daar is reeds ‘n paar pragtige verse wat deurkom.

Die uitsonderlike bastergemsbok kudde afkomstig van Malawi genetika het ‘n besondere rooi kleur en die koeie se horing mates wissel van 22” tot 25½”. Oorspronklik is ‘n 30” bastergemsbok bul, WABI op die kudde gebruik maar is metter tyd vervang met Victory (34”+). Victory groei elke jaar steeds en groot dinge word van hom verwag. Die groot horing moederkudde tesame met die huidige teelbul, Victory (34”+) teel uitsonderlik. Hierdie diere het reeds oor jare aangepas by die yskoue winters van die Oos Vrystaat en kan met gemak na enige area in die land geskuif word.

Wie is ons?

Dr JW Eksteen, ondersteun deur sy vrou, Pauline, staan aan die stuur van sake by Korannaberg Wild. Hy het in 2000 as veearts gekwalifiseer en deeltyds met vee begin boer. Hy het aanvanklik in Europa gepraktiseer; onder andere in Wallis as deel van die serologie span tydens die Bek-en-Klou uitbraak. In 2004 het Dr Eksteen as vennoot by Kroonstad Dierehospitaal aangesluit en terselfde tyd die geleentheid gebruik om saam met die ontwikkelende wildboere in die gebied, werksaam te wees en te groei.

Hy en sy vrou, Pauline, was ook betrokke by verskeie wildprojekte, onderandere in die Vereenigde Arabiese Emirate waar hul meer as 4,000 Sand gazelles (Gazella subgutterosa marica), Mountain gazelles (Gazella gazella) en Arabian Oryx (Oryx leucoryx) gevang en ondersoek het in die woestyn landskap van Abu Dhabi. Waardevolle data oor die diere se verspreiding, immunologie, ouderdomme, DNA profiele, voedingstekorte, horinglengtes, ens. is versamel vir navorsings doeleindes. Gedurende die tyd was hy ook nou betrokke by die Al Faya Wildlife Enclosures met na genoeg 12 verskillende uitheemse spesies, waar hy siektes moes trotseer wat onder andere Bek en klou, Pesti des petites ruminants en Snotsiekte, ingesluit het.

Dr Eksteen se belangstelling in skaars wild het tot gevolg gehad dat hy in 2006 self met wild begin boer het en Korannaberg Wild het totstand gekom. Onder sy leiding is van die eerste Swartwitpens en Bastergemsbok teelgroepe, in hierdie streek van die Oos Vrystaat, suksesvol gevestig het. Korannaberg Wild fokus op volhoubaarheid, die behoud van genetika, optimale voeding en optimale reproduksie en groei. Rekordhouding is die grondslag van boerdery en dit is veral belangrik in die wildbedryf vandag.

Tussendeur is hy ook as veearts betrokke by uithouritte en het al in verskeie lande gewerk, o.a. Europa, Vereenigde Arabiese Emirate en was deel van die behandelingsveearts span tydens die Wereldkampioenskappe in Malaysia 2009. In 2010 is hy aangewys as Spanveearts vir die Suid-Afrikaanse Uithourit span vir die World Equestrian Games in Lexington, Kentucky, VSA. Hy het ook die besondere eer te beurt geval om in 2011 gekies te word as Spanveearts vir die Namibiese Uithouritspan tydens die Afrika Uithourit kampioenskappe in Walvisbaai.

Wildboerdery is nie Dr Eksteen se enigste “stokperdjie” nie – Afrika en toer is in sy bloed. Hy en sy vrou, geniet dit om nuwe wêreld dele te verken met hul ou Land Cruiser (Bokwa) en te “bushcamp” in afgeleë plekke.

In 2003 het hy en ‘n skoolvriend Afrika deurkruis met die Land Cruiser bakkie en so sy jare lange droom verwesenlik. Tydens die reis vanaf die Vereenigde Konginkryke het hul 29 lande deurkruis en menigte Natuur reservate en parke besoek om soveel moontlik van die endemiese wild op te spoor. Van die hoogte punte was die skaars “Grey-necked Rockfowl” (Picathartes oreas) in die reënwoude van Korob Nasionale Park, Cameroon; die mitiese stad, Timbuktu; Uhuru piek van Kilimanjaro, “Bushcamp” tussen die migreerende wildebeeste in die Serengeti en ‘n landmyn besaaide pad deur Angola. Na 9 maande en 47,000 km later het hul die Suidpunt van Afrika bereik.

Tydens volgende oorland reise na Djibouti en Ethiopie, het JW en Pauline die uiters bedreigde Simen wolf, Gelada Bobbejaan en Walia Ibex opgespoor en kon afneem. In die Semliki vallei in die Noordweste van Uganda het hul die geleentheid gehad om die klein Woudolifante asook die skaars Rooi Woudbuffels te sien. In die Demokratiese Republiek van die Kongo was hul bevoorreg om tyd alleen saam met ‘n groep bedreigde Mountain Gorillas te spandeer en die vulkaniese berg, Nyarigongo uit te klim om die wêreld se grootste lava meer te besigtig. Daar het hul op die rand van die krater oornag met die gedreun van die borrelende lava as agtergrond musiek.

Die liefde vir Afrika vloei sterk deur hul are maar ander ongerepte wêreld dele soos Groenland, die mees Noordelike plek op aarde waar mense ‘n bestaan voer, is deel van hul belangstelling. Daar het hul vir ‘n tyd saam met inheemse Inoid jagters op honde slees oor die gevriesde oseaan getrek en saans in robvel klere, die Noorder ligte (Aurora Borealis) in temperature van -30 ˚C bewonder.

Tans is Dr Eksteen as veearts grootliks met wildwerk besig en geniet die geleentheid en voorreg om sy passie vir wild en sy beroep te kan integreer. Alhoewel Korannaberg Wild die meeste aandag kry vorm die Korannaberg Quarter Horse stoet en die Bonsmara en Vleismerino kuddes deel van sy belangstelling in boerdery.

“When you find a dream inside your heart, don’t ever let it go. Because dreams are the little seeds from which beautiful tomorrow’s grow…”

Korannaberg Wild’s Mini Auction Catalogue 2018

Contact