Syncerus Buffels2018-09-03T10:40:17+00:00

Syncerus Buffels

Syncerus Buffels is in 2008 deur die Minnaar familie gestig. Buffels is die grootste in die portefeulje en daar word ook met goue gemsbokke, livingstone elande, swartrugrooibokke en njala’s geboer.

In 2008, is Oos-Afrika buffels van die Elandsdrift kudde (Bill Venter) en buffels van Thaba Tholo aangekoop. Die eerste tien buffelkoeie, met ‘n gemiddelde horinglengte van 30 1/4″ is ‘n indikasie van die goeie genetiese materiaal wat die kern van die kudde vorm. Ons het die afgelope vyf jaar 20 diere aan die onderkant van die kudde verkoop, en sodoende ons kwaliteit nog verder verbeter.

Teelbulle afkomstig van Thaba Tholo, Madikwe en Kwanare is oor die afgelope 10 jaar in die kudde gebruik. Die huidige teelbul, 007, meet 45 “. 007 is spesifiek gekies vir sy unieke horingvorm asook goeie manlike eienskappe en sy ma is ‘n 38″ koei. Vorige teelbulle sluit in Diephoring, afkomstig van Kwanare, wat bekend was vir sy unieke diephoring kurwe en buitengewone vorm.

Hamilton 45” is ook gebruik vir sy uitsonderlike boss. Hy is afkomstig uit die Thaba Tholo bloedlyn. Die buffelkudde word volgens stoetbeginsels bestuur. Diere word daagliks gemonitor, kalfdatums word aangeteken. Nuwe kallers word jaarliks gepyl om dan mikroskyfies en oorplaatjies te kry. Op 18 maande ouderdom word die jong bulle geskuif na ‘n bulkamp waar hulle uitgroei.

Tydens die verskuiwing van die jong bulle, word hulle horings weer gemeet en bloedtoetse word gedoen (Corridor, TB en BM) om seker te maak ons kuddes bly bio-gesond. In die tien jaar wat ons met buffels boer, het ons nog nooit ‘n dier gekry wat positief vir siektes getoets het nie.

Tans is daar ongeveer 100 diere in die buffelkudde en 70 diere in die goue gemsbokkudde. Hierdie kuddes wei tans in die Kroonstad en Hennenman Distrikte. Die eksterne klimaatstoestande van die Vrystaat maak hierdie diere landswyd aanpasbaar, soos bewys deur talle vorige verskuiwings. Daar is tans van ons genetika in die Oos-, Wes- en Noord Kaap, Limpopo, Noordwes en die Vrystaat.

Ons buffelkudde wys natuurlike weerstand teen bosluise en in die tien jaar het ons nog nooit die kudde behandel vir uitwendige parasiete nie. Alle diere wat verskuif word, word egter behandel vir in- en uitwendige parasiete.

Vrugbaarheid, aanpasbaarheid en die temperament van elke dier is prioriteit eienskappe waarna ons kyk en waar volgens daar geselekteer word.

In 2012 is goue gemsbokke (afkomstig uit Namibië) aangekoop in vennootskap met die Crous Broers. Die diere het uitsonderlik aangepas in die koue Vrystaatse toestande en ons kalfpersentasie is besonder hoog.

Die belangrikste doelwit van die teelprogram is om die beste kombinasie van horinglengte, horingwydte en horingvorm te vind.

Ons het ‘n baie jong, gesonde buffelkudde met besonderse kwaliteit.

Hierdie is ‘n top kwaliteit kudde met besonderse genetiese materiaal en is die familie se trots.

Syncerus Buffels Mini Auction Catalogue 2018

Contact